Uit die As sal ons Verrys!

Uit die As sal ons Verrys!

Uit die As sal ons Verreis – Hernude restourasie van die Tolhuis!

Die Tolhuis is gebou tussen 1847-1849 as woonhuis vir die tolmeester en sy gesin. Tol moes gehef word vir elke wawiel 2 pennies, elke trekdier 1 pennie en ander diere ‘n halwe pennie. As mens ‘n perd met vier wit voete gehad het, kon dit gratis deur die tol omdat dit so skaars was. In Afrikaans het ons ‘n spreekwoord “om witvoetjie te soek” en dit dateer uit daardie era.

Verskeie van die tolmeesters het ook skoene gemaak van velle wat hul by die togryers gekry het en dan het jul dit weer aan die togryers verkoop – slim mense!

Tol is opgehef in 1918 toe dit pas gebruik was vir motors ook en daarna was die tolhuis ‘n brandwagtershut vanwaar alarm moes gemaak word as daar brande vanweë die stoomlokomotiewe op die spoorlyn ontstaan het.

Die Vriende van die Tolhuis het in 2008 sy beslag gekry toe ‘n paar vrywilligers bymekaar gekom het met een doel voor oë en dis om die Tolhuis tot sy vorige glorie te herstel. Die dak het soos ‘n sif gelek, al die deure en vensterrame was uitgebreek en selfs die houtvloer was gebruik vir vuurmaakhout. Skelms en vandale het die mure ontsier met aaklige graffiti.

Na die Vriende van die Tolhuis sowat 3 jaar gespook het vir toestemming van Erfenis Wes Kaap het hulle uiteindelik in 2011 die groen lig gekry om te begin met restourasie. Projekte soos hierdie is egter duur en daar is by Erfenisorganisasies aangeklop vir die fondse wat nodig sou wees om die Tolhuis reg te maak. Fondse was daar nie, maar die ongelooflike besigheidsmense van die omgewing het alle die bou benodigdhede geskenk, vrywilligers het hande gevat en binne 2 jaar was die Tolhuis gereed vir sy eerste besoekers. In 2014 het die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuur) ‘n toekenning aan die Vriende van die Tolhuis oorhandig en ‘n kontant donasie gemaak waaruit ‘n pragtige rietplafon vir die Tolhuis gekoop is.

Gou is daar besef dat die Tolhuis se onderhoudskoste uit eie planne ingewin sou moes word en so is daar Saterdae begin met die pannekoek en koffie by die Tolhuis. As ‘n NPO wou die Vriende van die Tolhuis niks verkoop nie en het bloot staatgemaak op donasies. Alte gou het die Tolhuis ‘n gewilde besoekplek geword. Met die geskiedenis wat lewendig gehou is met ou antieke gebruiksvoorwerpe en vertellings het veral skoolgroepe begin besoek aflê. Troues, babas wat gedoop moes word en verjaarsdagpartytjies was aan die orde van die dag.

Intussen is jaloers gewaak oor die kosbare versameling van antieke voorwerpe en met die skenking van ‘n transportwa van die Voortrekkermonument, was die Tolhuis op pad na ‘n opregte kultuursentrum. Die Weskaapse museums het selfs ‘n betaalde gids daar gestel wat besoekers kon bederf met lekkernye en vertellings.

En toe kom die vuur!!!! Na die Vriende vir 2 nagte gewaak het en met angstige harte die vuur dopgehou het, is daar gerus geraak toe die vuur blykbaar aan die terugkeer op sy eie spoor was. Onverwags het die wind gedraai en die inferno kon met niks gestuit word nie. Binne ure was die Tolhuis aan die brand en sy kosbare inhoud vir ewig verlore. Brandweermanne het tevergeefs probeer om die gebou en omgewing nat te spuit maar die vuur was net te oorweldigend.

‘n Klein proefmodel waenhuis wat sowat 30 meter van die Tolhuis was en geskei word deur ‘n reuse geelhoutboom, was ongeskonde met 2 perdekarre daarin. Alhoewel die toestand van die Tolhuis verpletterend was, het die vriende besluit om dadelik te begin met opruimingswerk en sommer dieselfde Saterdag is pannekoek en koffie aan die nuuskieriges bedien vanuit die behoue waenhuisie.

Alte gou het die vorige skenkers vorendag gekom met dieselfde skenkings wat hul voorheen gegee het, sink vir die dak, houtbalke en vloerplanke, rame vir die vensters en deure en geute, water tenks – als is alreeds geskenk.

Ongelukkig is die struktuur so erg beskadig in die brand dat daar van spesialis arbeid gebruik gemaak moet word en dit is besonder duur. Daar word egter reeds planne beraam om die nodige fondse in die hande te kry en verskeie kunstenaars het hul dienste gratis aangebied vir fondsinsameling projekte. Gebruiksartikels soos ‘n antieke klavier en verskeie stoele is ook alreeds geskenk en die Vriende hoop om binnekort te begin met die groot heropbou en restourasie werk. Dit is danksy mense soos die vriende van die Tolhuis dat hierdie kosbare ou dame weer soos voorheen sal pronk in haar nuwe uitrusting.

Enigeen wat enigiets te skenk het, is baie welkom om met die Vriende van die Tolhuis in verbinding te tree by gerdastols@telkomsa.net of die Facebook blad te besoek.

Artikel & Fotos: Gerda Stols Hooffoto: Fabian John Stoffels

Contributing Author

This could be you! Have an interesting story to tell? Contact us at trailridermedia@gmail.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *