KOFFIE

KOFFIE

Oor verloop van geslagte het die ou koppietjie drinkgoed so integraal deel geword van ons volksaard en kultuur dat ons selfs woorde en uitdrukkings in die omgangstaal daarvoor ontwikkel het. “Boeretroos” word hy genoem. En “ek gaan gou ‘n koffietjie drink by so-en-so” vervang die meer korrekte: “Ek gaan kuier by so-en-so.” En wanneer jy kuiermense het, hoor jy nooit: “Wie drink tee en wie drink koffie?” nie. Altyd: “Vir wie maak ek koffie en wie is lus vir tee.”

Langenhoven, wat self verslaaf was aan sy tuisgebrande, varsgemaalde koffie het daaruit ‘n wyse spreuk kwytgeraak: Gooi vir jou gas “tjiekorie” by die koffie en hy sal die “tjiekorie” onthou en die koffie vergeet.

Die koffiekan was saam op die trekpad en saam op kommando. In later jare is dit vervang met die thermosfles wat saam met die boer agter die bakkie se sitplek veld toe is, saam met die spoorwegman in die lokomotief of die kondukteurswa gegaan het en saam in die mynskag afgedaal het. In daardie thermosfles het Daisy de Melker die gif geroer vir twee van haar mans en haar seun en was die fles vir jare op uitstalling in die ou Polisiemuseum in Pretoria.

Dit was Jacobs, die koffiehandelaar van Pretoria, wat die eerste motorkar Transvaal toe gebring het en waarvoor pres Paul Kruger ‘n rit hartlik bedank het. “Altemit sit die ding met my op loop, Jacobs, en hoe wil jy hom ingeteuel kry?”

Die Depressiejare het koffie skaars en duur gemaak en al wat plan is, is gemaak om die paar koffiebone te rek. Akkers, vyeskille, die wortel van die witgatboom. In die Noordweste hoor jy nounog soms mense praat van ‘n koppie “ga-hat”, met verwysing na die witgatwortel.

In daardie jare het ou tant Hannie Marais elke denkbare plan gemaak om die koffie so lank as moontlik te laat uitkom. ‘n Blik Voortrekkerkoffie, of Van Riebeeck koffie was onbetaalbaar duur. Op ‘n more kom ry haar broer daar aan nadat die twee mekaar vir meer as ‘n jaar nie gesien het nie. Die twee oues sit aan by die kombuistafel en tant Hannie maak ‘n beker koffie. Oom Mans is teen hierdie tyd gewoond aan elke denkbare brousel en hy neem net een sluk en trek ‘n afgryslike gesig, toe skiet hy die inhoud van die beker oor die agterdeur.

“Ag nee magtig ou suster,” sê hy. “Watvirse brousel gemors gee jy my dan vanmore in?”

Tant Hannie is heel verslae. “Maar Maans,” sê sy, “dis dan die laaste ou skepseltjie rêrige koffie wat ek nog in die blik gehad het. Ha’jy dan vergeet hoe koffie smaak?”

Oupagrootjie Daan Geldenhuys op Williston het ‘n thermosfles koffie op die kombuistafel staangemaak met ‘n blikbekertjie daarnaas. Elke keer as hy deur die kombuis kom, neem hy, wat in daardie wêreld genoem word, ‘n “mondjievol”. Swart en bitter en sterk soos teer.

In sy 94e jaar gaan hy dokter toe en dié spreek hom aan. “Oom Daan moet meer water drink en minder koffie. So baie koffie is nie goed nie.”

“Dit wys jou wat weet hierdie slimgeleerde dokters,” is oupa Daan se kommentaar agterna, toe hy die dokterspille met ‘n “mondjievol” afsluk. “Waarmee dink hy maak ek my koffie anders as met water?”

Artikel: Daniël Lötter

Contributing Author

This could be you! Have an interesting story to tell? Contact us at trailridermedia@gmail.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *