7 gratis doen dinge met jou Suzuki Ignis

7 gratis doen dinge met jou Suzuki Ignis

Die ekonomie trek swaar en die begroting knyp. Die geluk is, dis die Suid Kaap die en die wet van Transvaal geld nie hier nie! Hier is baie wat jou kan besig hou sonder dat dit jou ‘n sent kos. Vir ons avonture het ons weer die bekostigbare en ekonomiese Suzuki Ignis ingespan. Hierdie ougat leefstyl voertuig is in 2018 aangewys as die beste sakpas motor in Cars.co.za se verbruikerstoekennings en het ons al op verskeie avonture geneem, insluitend Gamkaskloof (Die Hel). Lees gerus die stories op ons Ultimate Lifestyle Facebook blad.

1. Lê op die strand

Dit klink voor die hand liggend, maar wanneer laas het jy regtig op die strand gelê? Selfs al woon jy in die area, is tyd vir strand lê maar min. Máák tyd. Voel die sand onder jou voete. Maak bietjie lyf nat. Bou ‘n sand kasteel! As jy jou weer kan kry, voel jy weer kind. Heerlik.

2. Braai in die Bos

Die Suid Kaap is geseën met wonderlike inheemse woude. Selfs na die onlangse brande die plantasies verwoes het, het kolle inheemse woud behoue gebly. Wat almal nie weet nie, is dat jy in die bos kan braai, kompleet met geriewe. Daar is bankies en tafels, geboude braai plekke en selfs ablusie geriewe. Daar is wel ‘n toegangsfooi by plekke soos Jubilee Creek en Millwood (steeds die moeite werd om te sien) maar ander is gratis. Daar is sulke geriewe op die Prins Alfreds Pas, asook by die Groot Boom op die Sewe Passe Pad tussen Hoekwil en Karatara.

3. Stap langs die meer.

Die wildernis strandmeer het geen bekendstelling nodig nie, maar om hom in die verbyry deur ‘n motorvenster te sien bring hom nie tot sy reg nie. Aan die Noorde kant van die meer is ‘n 150m-lange hout loopvlak gebou wat jou tussen deur die riete, oor die water en onderdeur die melkhout bome reg langs die meer kan laat wandel. Die kort roete maak deel uit van Wildernis Nasionale Park, is 24/7 toeganklik en geen permit word benodig nie. Dis ‘n maklike roete geskik vir alle ouderdomme.

4. Soek ‘n skat

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Geocaching in ‘n wêreldwye skattejag speletjie wat met GPS’e gespeel word. Waar ook al jy nou sit en lees, daar is ‘n skat versteek nie te ver van jou af nie! Regtig! En met die slimfone van vandag wat bykans almal met GPS’e toegerus is kan letterlik enige iemand saam speel. Wat Geocaching besonders maak is die plekke waarheen die speletjie jou neem. Selfs in jou eie area sal jy moontlik plekke ontdek waarvan jy nie eens geweet het nie.

Nou hoe werk dit? Wel, registreer aanlyn by www.geocaching.com. Dit neem slegs ‘n paar maklike stappe en die speletjie word in detail verduidelik op die webtuiste. Daarna laai jy die gratis toepassing “c:geo” van Google Playstore op jou slimfoon af en sal jy kan sien hoe ver die naaste skat van jou af versteek is. Lekker speel!

5. Piekniek in die park

‘n Kombers, ‘n gepakte mandjie vol lekkernye, gras en ‘n lekker koelte boom. Dis al wat jy nodig het. Ons het ons sommer tuis gemaak in die Van Riebeeck Tuine in George. Dit is een van die “groen are” wat die berg en natuur met die middedorp verbind. As sulks spog die tuin met ‘n ryk voëllewe en sit jy stil onder die bome kan verskeie klein diertjies en insekte waargeneem word. Kleinwild soos bosbokke word ook gereeld gewaar.

Die Tuin is oop met gratis toegang vir die publiek en veral gewild onder fotograwe met trou, matriekafskeid, familie en selfs motor foto sessies wat hier geneem word. Die area is mooi en rustig, met mense wat met hul honde kom stap, of sommer net in die tuin kom sit en boek lees.

6. Stap ‘n roete.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Die Tuinroete is geseën met verskeie stap dagroetes en een van die bestes, St. Blaize Trail, is gratis! Die roete loop tussen die grot onder die vuurtoring in Mosselbaai, eindig by Danabaai en kan in enige rigting gestap word. Die totale roete is 13,5km en neem ongeveer 6 ure. Onthou jou hoed, sonblok, water en goeie stapstewels. Kyk net uit vir slange wat dalk in die loopvlak lê en bak en reël terug vervoer by die eindpunt of neem ‘n taxi.

7. Doen ‘n goeie daad!

Hou ‘n plastiek sak byderhand. Waar ook al jy heen ry, stap of waar jy stop, gooi enige rondlê rommel in die sak en los die plek skoner as toe jy daar aan gekom het. Dis iets klein wat, as almal dit doen, ‘n groot verskil kan maak. Doen jou deeltjie en kom ons hou die Tuin roete skoon!

Fotos: Johann van Tonder

Rosalyn Van Zyl

Rosalyn van Zyl is gebore in die destydse Transvaal, maar maak deesdae die Kaap haar tuiste. ‘n Kranige ruiter met ‘n besonderse liefde vir die buitelewe, kamp en tuimaak. Of sy nou perd of motorfiets ry, kos of tuin maak, in alles is ‘n storie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *