GEKLEURDE VARKORE KLEUR JOU TUIN

GEKLEURDE VARKORE KLEUR JOU TUIN

Zantedeschia (gekleurde varkore) word deur baie tuiniers gesien as ‘n potplant wat jy by die kwekery koop en wanneer dit klaar geblom het, gooi jy die plant weg. Dit is so jammer, want hierdie bolplante kan uitgeplant word in die tuin om weer te blom.

Die gekleurde varkoor is ‘n bol wat met die regte uitplant metode en die regte voeding meermalig blomme kan verskaf in die tuin. Die gekleurde varkore wil in die son geplant wees om massa blomme te verskaf. Die bolle hou nie van kleigrond nie, want die kleigrond hou te veel vog vas en dit laat die bol dan vrot. Dit is ook nie ‘n goeie idee om jou bolle direk in die grond te plant nie, want dan kan die tuinvurk ‘n gat in die bol druk en sodoende die bolle beskadig. Plant jou bolle in plastiek potte in potgrond en laat sak die pot in die grond. Plant ‘n grondbedekker tussen die potte sodat die grondbedekker kan bo-oor rank en sodoende die bolle afkoel in die warm somer. Sodoende word die bolle beskerm teen die tuinvurk en ook teen die kleigrond.

VOEDING: Die gekleurde varkoor benodig ‘n ryk grond om meermalig te kan blom. Gooi elke 3 maande ‘n eetlepel vars kompos of erdwurmkompos oor die grond om die grond organismes, wat die voeding vir die bolplant aangee, te vermeerder. Dit is ook beter om die bolplante maandeliks te voed met ‘n opneembare, organiese voedingstof soos NITROSOL of SEEWIER indien jy baie blomme wil he. Die gekleurde varkore groei ook beter en groter indien jy so af en toe spoor elemente as blaarvoeding toedien.

Na die blomfase is die varkoor geneig om geel blare te ontwikkel, wat dan knak en omval. Sodoende verloor die plant dan al sy blare en stoot eers weer nuwe blare in die lente. Baie tuiniers het deur die jare gedink dat dit normale praktyk is dat die varkoor moet oorwinter. Maar des teenstaande het sekere tuiniers in my Tuinskool gevind dat die gekleurde varkoor nie hoef te oorwinter as die regte voeding gereeld (elke 3 maande) toegedien word nie. By die Tuinskool meng ons verskillende voedingstowwe wat 70 minerale en spoor elemente aan die varkoor verskaf en dien dit elke 3 maande toe bo op die grond, saam met erdwurmkompos om dit af te breek. Hierdie mengsel veroorsaak dan dat die gekleurde varkoor gereeld nuwe bolle groei en elke 3 maande, selfs in die winter, blom. Jy hoef dus nie ‘n bekwame tuinier te wees om jou gekleurde varkore heeljaar in blom te sien nie.

Artikel: Arina Duvenhage Foto: hadeco.co.za

Arina Duvenhage, ‘n kwalifiseerde Hortikulturis, bied tuinbou klasse regoor die Suid-Afrika aan. Enige belangstellendes is welkom. Kontak Hillegina den Boer van die Mosselbaai Tuinbouklub by 082 829 4909.

Contributing Author

This could be you! Have an interesting story to tell? Contact us at trailridermedia@gmail.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *