Heroldsbaai

Heroldsbaai

Son, see, branders en draai roomys! Die eerste drie was altyd daar, laasgenoemde het eers later by gekom. Wat seker is, is dat Heroldsbaai al meer as ‘n eeu ‘n uiters gewilde bestemming is.

Toentertyd was Heroldsbaai deel van Dirk Lamprecht se plaas “Brakfontein” en het bekend gestaan as “Sandstrand”. Sandstrand is egter later herdoop na Heroldsbaai, vernoem na Tobias Herold. Hy was die NG Predikant in George van 1812 tot 1823 en ‘n ywerige visserman.

Die eerste permanente inwoner van Heroldsbaai was ene Thompson, ‘n skipbreukeling wat daar uitgespoel het in 1920 en vir agt jaar daar in ‘n grot gebly het. Daar was egter gereeld tydelike inwoners en vakansiegangers. Reeds in 1904 het twee sakemanne van George “erwe” uitgesit om die tente en waens van vakansiegangers te akkomodeer. Die eerste vakansiehuis was gebou vir Matilda Howitson van Blanco. Bou materiaal moes per muil aangery word vanuit George. Hierna was die koeël deur die kerk en Heroldsbaai is gevestig as gewilde vakansie bestemming.

Ten spyte van die ontwikkeling bly Heroldsbaai ‘n sonderlinge bestemming. Swierige moderne geboue deel die baai met geboue uit die verlede, soos die Stella Maris Katolieke Kapel gebou in 1933. Draai roomys het ‘n instelling op die strand geword en ‘n besoek aan Heroldsbaai sonder die lekkerny sal net nie dieselfde wees nie. Kinders kan baljaar in die gety poel, son baaiers geniet die groot sand strand en vir die wat nie wil stilsit nie is daar altyd swem, visvang, branders ry of stap en skulpe optel.

Vakansietye is die baai ‘n miernes van bedrywigheid. Elke vakansie huis het mense, die geure van braaivleis in die lug. Sulke tye is daai vakansie-gees is aanvoelbaar! Maar as skares nie vir jou is nie, Heroldsbaai is verbasend stil buite vakansie tye. Tensy dit ‘n besonderse lekker dag is, kan jy rustig op die veilige strand gaan stap, of sommer net gaan sit en boek lees. En dít is waarskynlik Heroldsbaai se grootste bate. Dat hy onvergeetlike tye kan bied vir almal.

Artikel: Johann van Tonder Foto: FPG Imaging – Francois Germishuys

Ou fotos met vergunning van die George Museum.

Trailrider

Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies. Wanneer hy tuis is verken hy graag die area se agterpaaie op sy ysterperd op soek na nuwe stories en verhale vir sy reis blog en druk-titel Ultimate Lifestyle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *