Geskiedkundige George

Geskiedkundige George

Die dorp George het sy oorsprong in die groeiende behoefte vir hout. Die eerste buitepos is reeds in 1776 gevestig, net Wes van waar York Straat vandag geleë is. Destyds het die buitepos ‘n bestuurder, 12 bosbouers, ‘n smit, ‘n wamaker en hul families, asook sowat 200 osse gehuisves. ‘n Nederige begin.

Na die tweede Britse okkupasie in 1806 is daar besluit dat die Swellendam Distrik te groot was en verdeel moes word. George was gekies as die setel vir ‘n nuwe streek as gevolg van die beskikbaarheid van water en in 1811 is George tot dorp verklaar, vernoem na Koning George die Derde, met Adriaan Geysbertus van Kervel as die Landros.

Een van Van Kervel se eerste opdragte was die maak van ‘n leivoor wat 36 dorpserwe van water moes voorsien. Die dam wat die water moes voorsien bestaan steeds en is tans geleë in die Botaniese Tuin bo aan Caledon Straat.

George het Munisipale status verkry in 1837. ‘n Erfbelasting van 75c is ingestel en die dorp se inkomste uit die bron was ‘n hele R78-00. ‘n Dorpshuis is gebou net Oos van York straat in Mark straat in 1847 en met die Eeufees viering in 1911 is die eerste stadsaal voltooi op die hoek van York en Mark strate. Met die 150 jarige viering van George is die huidige Stadsaal gebou en voltooi in 1964.

Verskeie ander geboue uit die era staan nog in George. Een van die mooiste geboue in York straat is die St Mark’s Anglikaanse Katedraal, ingewy in 1850, gebou uit plaaslike klip. Aan die Weste kant van York straat staan Huteria, oorskootjie en die Kuns Teater, wat destyds ‘n skool vir meisies was. Bo-aan York straat is die eerste Drosdy gebou in 1812. Die gebou het egter afgebrand in 1826 en is in 1831 herbou as ‘n privaat woning. Later in die 19de eeu is die gebou omskep in die Victoria Hotel tot die George munisipaliteit die eiendom bekom het in 1972. Die gebou huisves tans die George Museum.

Ook Caledon straat spog met ‘n paar prag eiendomme uit vervloë dae. Caledon straat 5 is in 1903 gebou as ‘n familiehuis. Die huis in Caledon straat 7 is nog ouer, gebou in 1862 as aftree geskenk vir Ds. Ballot. Die huis in Caledon straat 11 dateer uit die vroeë negentiende eeu en het oorspronklik ‘n grasdak gehad en die Victoriaanse Huis in Caledon straat 30 het onveranderd gebly totdat dit in 1975 vergroot is.

Die Rooms-Katolieke Kerk in Meade straat is voltooi in 1843 en is die oudste Rooms-Katolieke Kerk in Suid Afrika. Die kroon juweel word egter aangetref aan die bopunt van Meade straat. Die hoeksteen van die Moederkerk is gelê op 14 April 1832 deur Ds Ballot. Boumateriaal en hout is van so ver as Plettenberg baai en Riversdal met ossewaens aangery, terwyl die hout voordeur vanuit Kaapstad ingevoer is. Dit het 12 jaar geneem om die kerk te voltooi. Op 13 September 1905 stort die kerktoring ineen na jare se verwering sy tol geëis het. Vandag, meer as honderd jaar later, staan die kerk nog net soos hy herbou is en is steeds in gebruik.

Die hoof-slagaar van George bly sy hoofstraat, York straat. Die straat is vernoem na die Hertog van York, Koning George die Derde se tweede seun. Alhoewel die aansig van York Straat oor die jare verander het, bly hy wyd genoeg dat ‘n ossewa met ‘n vol span osse om sou kon draai.

Artikel & Foto: Johann van Tonder. Ou fotos met vergunning van die George Museum.

Trailrider

Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies. Wanneer hy tuis is verken hy graag die area se agterpaaie op sy ysterperd op soek na nuwe stories en verhale vir sy reis blog en druk-titel Ultimate Lifestyle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *