Tee in die Tradouw

GC1BR9V / S 33° 57.901 E 020° 42.281
In ‘n vorige uitgawe van Ultimate Lifestyle het ons vertel van Geocaching, die GPS-Skattejag speletjie. Die speletjie het ons geneem na ‘n waterval paradys op die Tradouw Pas.
Die Tradouw pas lê tussen Suurbraak (naby Swellendam) en Barrydale in die Klein Karoo en is gebou deur die meester padbouer Thomas Bain. Konstruksie het begin in 1869 en in 1873 is die pas geopen vir verkeer. Die naam Tradouw kom van die Khoi woord “tradau” wat beteken “Pad van die Vroue”. ‘n Kerk is gebou aan die Karoo kant van die pas en gou het ‘n dorp ontwikkel, Barrydale, so vernoem na die bekende Barry familie van Swellendam. Dieselfde familie waarna verwys word in ons Malgas pont storie!
Die pas is asemrowend mooi om te ry met vele stop en uitkyk punte. Ons skat was versteek by een van hierdie aftrek plekke, ‘n klein paadjie van die teerpad af wat jou neem na ‘n skeur met ‘n waterval, kompleet met ‘n tafel en stoeltjies vir ‘n piekniek. Die skat was gou gevind, maar die regte skat was die ontdekking van hierdie waterval. Definitief ‘n moet-besoek as jy oor Tradouw pas ry.
Artikel & Fotos: Johann van Tonder