Van Riebeeck Tuine – George se hart is Rustig

Van Riebeeck Tuine – George se hart is Rustig

Dis darem nie elke dorp wat kan spog met fotos van toeka en nou, waar die huidige fotos ‘n groot verbetering toon nie. Hierdie is egter iets om op trots te wees. Vir dekades lank al is die Van Riebeeck Tuin ‘n lushof vir die mense van George om te besoek.

Die Van Riebeeck Tuine lê langs Heatherlands, Oos van Arbour weg en Noord van Davidson weg, en strek sowat 1,88 kilometer Noord na Suid. Dit is een van die “groen are” wat die berg en natuur met die middedorp verbind. As sulks spog die tuin met ‘n ryk voëllewe en sit jy stil onder die bome kan verskeie klein diertjies en insekte waargeneem word. Kleinwild soos bosbokke word ook gereeld gewaar.

‘n Groot deel van die sukses van die tuine en die instandhouding daarvan, kom van die Van Riebeeck Tuine Vereniging. Hierdie groep vrywilligers, met periodieke finansiële ondersteuning van die plaaslike owerheid, sorg dat kennisgewing borde opgerig en in stand gehou word, tuinbanke en vullisdromme in die tuine aangebring word en dat algemene onderhoud en skoonmaak werk gedoen word. Daar is ‘n tuinier wat na die plante omsien en selfs ‘n sekuriteitswag wat seker maak dat ongewensde persone snags wegbly.

Die Tuin is oop met gratis toegang vir die publiek en veral gewild onder fotograwe met trou, matriekafskeid, familie en selfs motor foto sessies wat hier geneem word. Met ons besoek het ons het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om piekniek te hou onder die bome. Die area is mooi en rustig, met mense wat met hul honde kom stap, of sommer net in die tuin kom sit en boek lees.

Die Van Riebeeck Tuin is deel van ons George erfenis, maak van die geleentheid gebruik om die tuin te besoek en te deel in die rustigheid in die hartjie van George.

*Die voertuig in die foto is ‘n Mercedes AMG GT en was ten tyde van die fotos op toets by ons susterkoerant Ultimate Drive.

Artikel en foto: Johann van Tonder Lugfotos: Verskaf

Trailrider

Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies. Wanneer hy tuis is verken hy graag die area se agterpaaie op sy ysterperd op soek na nuwe stories en verhale vir sy reis blog en druk-titel Ultimate Lifestyle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *