Pepsi Pools

Wie die naam Pepsi Pools gegee het, weet ek nie. Waarom die natuurlike poele so gedoop is, is egter duidelik. Die bergwater wat in die poel in loop is donker van kleur, nes Pepsi. Coke Poele sou net nie dieselfde impak gehad het nie. Brandewyndam sou nogal ‘n alternatief kon wees. “Die brandewyn dam waar die lammers lam”, soos Des en Dawn Linberg in hul liedjie sing.
Die pragtige poele is te vinde na so 30 minute se stap deur ‘n Denne plantasie en inheemse fynbos, vanaf die Nelson Mandela Universiteitsgronde. Ry Oos vanuit George en neem die Saasveld afdraai vanaf Knysnaweg. Volg die pad vir so 5km en draai links in na die NMMU (Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit). Teken in by die hek en ry nog so 2km tot die ryvlak verander in ‘n grondpad. Volg die pad tot by ‘n geslote hek en parkeer jou voertuig (nie voor die hek nie). Jou staproete begin hier. Die roete is maklik genoeg vir kinders en kan ook met ‘n bergfiets gery word.
Artikel: Johann van Tonder