Ry ‘n bietjie uit!

Ry ‘n bietjie uit!

Malgas se Pont.

Laai jou voertuig op ‘n vlot en sleep hom oor die rivier. Nee, ernstig!

Baie mense het al gehoor van die pont by Malgas, maar hoeveel het al uitgery en gaan kyk hoe lyk dié kruising van die Breede Rivier? Glo my, die uitstappie is die moeite werd. As as jy dit boonop gedurende die regte tyd van die jaar doen, vang jy die Overberg in al sy geel Canola prag. Maar daarvoor kon ons nou nie wag nie.

Malgas se pont is slegs sowat 210km vanaf George, waar ons gebaseer was. Dit is dus ‘n lekker daguitstappie binne bereik van enige selfaangedrewe voertuig. Maar voor ons verder vertel van die pont, laat my toe om bietjie uit te brei oor die geskiedenis van die area. Die 19de eeu geskiedenis van Malgas loop hand aan hand met die van Swellendam (40km vanaf Malgas) en die Barry familie.

Joseph Barry was ‘n prominente besigheidsman en die stigter van Barry and Nephews, ‘n maatskappy wat vakmanne in diens geneem het om die boerderygemeenskap te ondersteun. So bekend was die onderneming dat die liedjie “As jy lekker wil lewe, koop by die Barry Newe” gereeld deur die kinders in Swellendam se strate gesing is.

Tydens die voorspoedige jare het die Barry Newe selfs ‘n skeepsdiens op die Breederivier op die been gebring. Omdat dit ‘n ossewa ‘n volle drie weke geneem het om na die Kaap te reis, was die vervoer van die Overberg se produkte per see na die kaap baie winsgewend.

Op 26 September 1859 het ‘n spesiaal geboude stoomboot genaamd “Kadie” van 158 ton op haar nooiensvaart uit Kaapstad by die Breede rivier aangekom. Hier het sy die sandbank tussen die rivier en die see suksesvol genavigeer en 48km stroomop tot by Malgaskraal (nou Malgas) gestoom. Dit was ‘n heuglike dag vol belofte van groot voorspoed vir die hele streek.

In 1865 het ‘n reeks tragiese gebeure in en om Swellendam die val van die goue jare van handel veroorsaak. Eers het ‘n vuur 40 grasdakhuise in die die dorp verwoes. ‘n Erge droogte wat gevolg het, het die streek verder geknou en die volgende ramp kon dus nie op ‘n slegter tyd gekom het nie. Op 17 November, na 120 reise, het die Kadie-stoomboot die rotse op die westelike oewer van die Breede getref en is heeltemal verwoes. Die Barry-ryk het gewankel en is uiteindelik gelikwideer.

Vandag is Malgas steeds bekend, maar die ironie kon nie groter gewees het nie. Na die dae van besigheid, rykdom en vooruitgang, het Malgas nooit weer herstel nie. Vandag, selfs in die moderne tyd van tegnologie, het Malgas nie eers ‘n brug nie. Hier word voertuie steeds op ‘n pont gelaai en per hand oor die rivier getrek – asof tyd hier stilgestaan het!

Die legendariese Moxie Dunn het vir dekades as die pont operateur gewerk. Die voormalige bokboer het in 1961 sy pos as pont-operateur opgeneem, ‘n pos wat hy tot in 1986 volgestaan het. Moxie het met ‘n harnas man alleen voertuie oor die rivier getrek, ‘n taak wat vandag deur twee of drie man gedoen word. Die diens, wat reeds in 1860 begin het, het in al die tyd basies nog niks verander nie. Ry uit! Hierdie is lewende geskiedenis.

Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Trailrider

Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies. Wanneer hy tuis is verken hy graag die area se agterpaaie op sy ysterperd op soek na nuwe stories en verhale vir sy reis blog en druk-titel Ultimate Lifestyle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *