Help my Trap!

Toe BMW onlangs hul nuwe BMW X3 in die Tuinroete bekend gestel het (lees meer hieroor in ons susters-titel Ultimate Drive) het hul nog ‘n verrassing vir die media teenwoordig gehad. ‘n BMW fiets!
Die fiets is gesamentlik ontwikkel deur BMW Lifestyle en fiets vervaardiger SPECIALIZED en die naam is omtrent ‘n mondvol! Dis die “SPECIALIZED for BMW Turbo Levo FSR 6Fattie”. Sjoe.
Wat die fiets interessant maak is die elektriese motor, geïntegreer in die raam. Die motor lewer 250 watt krag om te help met die trapslag as daar ‘n heuwel of iets opduik. Die 504 Wh battery kan verwyder word en apart herlaai word, ook vanaf jou motor se 12V kragsok. Boonop is daar ‘n toepassing vir jou slimfoon waarop die ryer sy vermoë en gewoontes laai, asook die lente en tydsduur van die rit, om te verseker dat die battery vir die hele rit sal hou.
Enige iemand kan dus nou die berge invaar op ‘n fiets, sonder om te veel te trap. Daar is net beperkte getalle van die fiets beskikbaar en die prys is net so indrukwekkend soos die naam: R79 914,00. BTW is darem ingesluit!
Artikel: Johann van Tonder