Tuinroete: ‘n Gunsteling vir nuwe karre.

Tuinroete: ‘n Gunsteling vir nuwe karre.

Die tuinroete is ongetwyfeld een van ons land se mooiste streke. Vanaf George tot anderkant Plettenbergbaai is ‘n betowerende wêreld wat wag om ontsluit te word. Die geheime, die natuur, die lewe, die mense, die atmosfeer, die Tuinroete! Maar dis nie net toeriste wat aanklank by hierdie streek vind nie. Nee. Motorvervaardigers kom gereeld na hierdie gewestes om hul nuwe motors bekend te stel. Neem nou vir Toyota, byvoorbeeld. Nes Oktober 2017 begin weg sluimer, stel die fabrikaat vernuwe modelle van sy Hilux en Fortuner bekend en kies toe hierdie einste streek vir die bekendstelling. Hoe dit ook al sy, hoekom is hierdie area so ‘n gewilde bestemming om ‘n nuwe motor te loots? En hoekom is dit dat mens telkemale, oor en oor, van voor af verlief raak op die area?

Gee my die woud!

Etlike kilometers weg van die N2, berg se kant toe, is roetes wat so versteek is soos die wilde olifante wat nog in vrylik in die woud beweeg. Mens kan verdwaal in die geheimsinnigheid wat in die paaie verberg word. Soos mens Plett inkom vanuit Humansdorp se rigting, is ‘n bordjie wat Uniondale aandui. Dis ‘n teerpad wat later ‘n grondpad word. Jis, wat ‘n stukkie pad!

Mens eindig eventueel in Knysna op en dit neem wel verskriklik langer as om net die 30km tussen Plett en Knysna met die N2 af te lê, maar daar is karakter in hierdie roete. Die bome wat oor die pad buig, die klammigheid in die lug soos die vrugbaarheid uit die grond suipel, die kronkelende paaie wat met elke draai ‘n nuwe wêreld ontbloot. Onuitwisbare beelde van hoe die mis oor en tussen deur die bome beweeg en die heuwels oop lê so ver as die oog kan sien.

Bietjie avontuur

Daar is so baie om te sien en te doen in die Tuinroete, dat mens half skuldig voel om selfs een aktiwiteit uit te laat. Van rekspronge tot staproetes en vaar op die Knysna meer… daar is interessante maniere om jou tyd te verwyl. Ry jy rigting Kaapstad kry jy Sedgefield, ‘n stil ou dorpie tussen Knysna en Wildernis. Net verby, nog voor jy Wildernis inry, is ‘n 4×4 roete wat die beste uit jou en jou voertuig sal bring. Waar mens regtig die manne van die seuns kan skei! Okay, dis darem nie só erg nie. Die roete begin aan die voet van ‘n heuwel waar die see aan die onderpunt teen die rotse klots. Met 4×4 hoë strek en die agterste ewenaarslot geaktiveer kan mens die sandduine met gemak trotseer. Daar is steil hellings en dongas wat jou bestuursvernuf lekker kan beproef, maar beide mens en masjien sal vernuwe aan die anderkant uitkom.

Met die Hilux en Fortuner se bekendstelling het ons wel net ‘n gedeelte van die baan verken, maar daar is dele van die park wat selfs nog méér bied as die paar kilo’s wat ons afgelê het. Gesoute veldryers sal hierdie baan geniet. ‘n Aanbeveling sal wees om die baan eerder in 4×4 laestrek aan te pak as in 4×4 hoë strek, net omdat dit minder stremming op die enjin en ratkas sal plaas. Vir voertuie met ‘n handratkas is dit die ideaal om in ‘n hoër rat weg te trek en elke hindernis in hierdie rat aan te pak.

Stap, hardloop, ry, seil, vlieg. Berge, mere, strande, klowe, woude, noem maar op. Die area bied so veel! Die Tuinroete met al sy verskynsels is ‘n stukkie hemel op aarde en diegene wat hier bly weet watter goud hulle mee omring is. Die paaie en aktiwiteite is genoeg om enige toeris of inkomeling dadelik tuis te laat voel en die gevoel agter te laat van ‘volgende keer kom ek weer!’

Artikel en Fotos: Charlen Raymond

Charlen Raymond

Charlen Raymond is a freelance motor journalist and editorial member of Ultimate Drive. In addition to his involvement with Ultimate Drive, he is also the founder and editor of his own publication, Manskap. Charlen grew into the industry following stints at Car Magazine and Wheels24, as well as an 18-month stint as weekly Formula 1 columnist for the big three: Die Burger, Volksblad, and Beeld. https://manskap.co.za/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *