‘n Helse lekker karretjie.

‘n Helse lekker karretjie.

Groot sportnutsvoertuie en viertrek dubbelkajuite is gewild in SA, want hulle maak sulke goeie leefstyl voertuie. Groter is beter en die voertuie is behoorlik toegerus. Sommige manne is so ingerig, as hulle kamp op slaan word tot hul pos afgelewer! Dis lekker om te sien en lekkerder om te besit, maar beteken dit dat jy nie sonder so voertuig die wêreld kan gaan verken nie? Die antwoord is vir seker NEE!

Toe ons besluit om ons storie oor Gamkaskloof / “Die Hel” met ‘n Suzuki Ignis te gaan doen het sommige mense gedink ons is van lotjie getik. ‘n Klein luikrug is net nie die soort voertuig wat jy met sulke avontuur ritte assosieer nie. Tog, ons het reeds in ‘n vorige uitgawe Montagu pas met ‘n Ignis gaan verken (die storie is op ons Facebook blad as jy daardie uitgawe gemis het). Die Ignis is goed aanmekaar gesit en met ‘n 180mm grondvryhoogte en ‘n kort asafstand skrik hy nie juis vir ‘n grondpad nie.

Eerste aan die beurt was Swartberg pas met sy asemrowende hoogtes en uitsigte. Met die afdraai na Die Hel het die padoppervlak dramaties versleg. Die eerste 10km is behoorlik sinkplaat gery en ons het dit maar stadiger gevat terwyl die pad sy bes probeer het om die stopsels uit ons tande te skud. Daarna het dit beter begin gaan, alhoewel ons hier en daar vir ‘n groot klip moes koes en ‘n paar riviere oorsteek. Uiteindelik, toe ons met die dramatiese pas met sy skerp haarnaald draaie in Gamkaskloof moes afsak het die Ignis met sy knap draaisirkel heel gerieflik af gery en onder in Die Hel trots sy staan gaan maak tussen die Fortuners en Land Cruisers.

Met die terugrit oor die selfde pad het ons weereens die motortjie jammer gekry met die geskud oor die slegte stuk, maar toe ons uiteindelik weer die teerpad tref was daar nie eers sprake van die geringste ratel in die Ignis nie. Die Suzuki het al die toestande maklik hanteer, ons het net mooi versigtig gery. Na ‘n dag van ure se ry in 1ste, 2de en 3de rat het die Ignis steeds ‘n gemiddelde verbruiksyfer van 5,9L/100km gegee.

Hierdie is ‘n leefstyl blad en nie ‘n motor koerant nie, maar die Ignis het ons so beïndruk dat ons net moes deel dat ‘n sogenaamde leefstyl voertuig nie noodwendig ‘n huis se prys hoef te kos nie. En ons is nie die enigste wat beïndruk is nie. Die Ignis is onlangs aangewys as die beste sakpas motor in Cars.co.za se verbruikerstoekennings (terloops, Suzuki het dieselfde aand ook weggestap met beste handelsmerk algeheel) en verder is die Ignis ‘n finalis in die 2018 Motor van die Jaar kompetisie. Ons hou duime!

Artikel & Fotos: Johann van Tonder

Trailrider

Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies. Wanneer hy tuis is verken hy graag die area se agterpaaie op sy ysterperd op soek na nuwe stories en verhale vir sy reis blog en druk-titel Ultimate Lifestyle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *