Skattejag!

Skattejag!

“Stop die horlosie!” Ons ouers lesers sal onthou hoe Scot Scott destyds uit helikopters gespring, oor berge geklim en in riviere geduik het op die TV program Skattejag. Dit was ‘n gejaag teen tyd om die skat op te spoor. Gelukkig hoef jy nie in die stokperdjie geocaching enige van die dinge te doen as jy nie wil nie. En niks werk teen tyd nie.

Geocaching in ‘n wêreldwye skattejag speletjie wat met GPS’e gespeel word. Kolega Brian Cheyne vertel in die artikel hiernaas hoe dit ontstaan het, maar glo my vry, waar ook al jy nou sit en lees, daar is ‘n skat versteek nie te ver van jou af nie! Regtig! En met die slimfone van vandag wat bykans almal met GPS’e toegerus is kan letterlik enige iemand saam speel.

Die skatte wat versteek is wissel in grootte, van micro-klein met net ‘n papiertjie in om jou naam op te skryf, tot roomys bakke en ammo kiste gevul met allerhande dinge wat jy kan uitruil. As jy gelukkig is, vind jy dalk selfs ‘n Travelbug, dis iets wat oor die wêreld rond reis en jy kan aanlyn gaan kyk wie hom besit, waar hy los gelaat is en hoe ver hy al gereis het. Ons eie Travelbug het al 72673.3km afgelê en na besoeke aan Amerika, Europa, Japan en Nieu Zeeland bevind hy homself nou in Australië.

Wat die speletjie besonders maak is nie net dat dit gratis is en dat die hele familie kan saam speel nie. Ook nie soveel die skatte wat jy ontdek nie, maar eerder die plekke waarheen die speletjie jou neem. Selfs in jou eie area sal jy moontlik plekke ontdek waarvan jy nie eens geweet het nie.

Nou hoe werk dit? Wel, registreer aanlyn by www.geocaching.com. Dit neem slegs ‘n paar maklike stappe en die speletjie word in detail verduidelik op die webtuiste. Daarna laai jy die gratis toepassing “c:geo” van Google Playstore op jou slimfoon af en sal jy kan sien hoe ver die naaste skat van jou af versteek is. Daar is letterlik miljoene reg oor die planeet. En dan gaan soek jy!

As jy die skat vind, haal hom uit, maak hom oop en skryf jou naam op die lys om te bevestig jy het dit gekry. Jy se dan ook op die toepassing dat jy hom wel gevind het. Maak die skat weer sorgvuldig toe en versteek weer soos gekry. En moenie dat ander mense sien wat jy doen nie! Sommige skatte is te klein om ‘n pen in te bêre so neem jou eie en as jy ‘n skat vol speelgoed kry, voel vry om iets te neem in ruil vir iets anders wat jy terug plaas. Dis groot pret en dit kry jou bietjie uit die huis uit. Selfs as jy nie gelukkig genoeg is om die Desember met vakansie te gaan nie, kan hierdie speletjie jou in jou eie dorp aan die gang hou, gratis!

Lekker speel!

Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Trailrider

Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies. Wanneer hy tuis is verken hy graag die area se agterpaaie op sy ysterperd op soek na nuwe stories en verhale vir sy reis blog en druk-titel Ultimate Lifestyle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *